Monday, 11 April 2011

Die Kat, Die Voël en Die Kind..

Dit is nogals moeilik om vir kinders te verduidelik van dinge soos dood, seks ens., veral as hulle onder die ouderdom van 4 jaar is en nie altyd verstaan nie (of baie eerlike en opregte vrae vra).  Baie ouers vrees hierdie oomblikke en gewoonlik vang dit jou wanneer jy dit die minste verwag.  

So het ‘n kennis se dogterjie een dag aan tafel (vol gaste) gevra “mamma hoe het pappa die saadjie in mamma se maag geplant?”  (Die ma se vorige verduideliking van hoe haar baba sussie in haar ma se maag beland het). Noodeloos om te sê was die ma se gsig rooi van verleentheid  en gaste  hard besig om hul lag te onderdruk!!!

Tydens gister se Sondamiddag kos maak, roep my dogtertjie my “mamma, Wollie (die katjie) het dít gebreek”  My eerste gedagte is dat hy seker weer een van die “decorating balle" (daardie wat jy in ‘n bak op ‘n koffie tafel sit) gebreek het - van die baie wat daar was, het hy al meeste stukkend “sokker” mee gespeel.  Met nadere inspeksie sien ek egter dat hy so pas sy eerste voëltjie in gebring het (iemand het eenkeer vir my vertel dat dit ‘n teken is dat hulle lief is vir jou – dankie tog die mensdom wys nie hul liefde op dieselfde manier nie!!). My eerste reaksie is afgryse en toe slaan dit my tussen die oë – hoe verduidelik ek nou die dood van die voëltjie!!  Gelukkig vir my is die lyf en kop weg en is dit net die twee vlerk gedeeltes wat ingedra is, so my dogtertjie is nie rerig bewus wat dít is wat Wollie “gebreek het nie”.  Ek dink dadelik “hier kan ek nou die verduideliking vryspring, nou net rustig my man roep en hom stil stil vra om net die oorskot te verwyder”.  My man kom in en sê o, Wollie het ‘n voëltjie gevang (so much vir stil en kalm!).  Ek verwag dat sy in trane gaan uitbars...

Sy draai om en sê vir my: “mamma het Wollie die voëltjie gebreek?” Ek probeer hard my lag onderdruk, slaag nie baie goed daarin nie, maar antwoord ja.  Die volgende vraag volg vinnig : “mamma kan die klein voëltjie nou nie meer vlieg nie?” Steeds hard besig om my lag te onderdruk, antwoord ek ja.  Ek besef met die volgende vraag gaan ek die dood moet verduidelik (my kop begin oortyd werk, ek voel my hande word klam) sy maak haar mond oop...

O!


Is al wat sy sê terwyl sy omdraai en die kat begin raas omdat hy die voëltjie gebreek het!!  Ek dink by myself  – dankie tog vir die onskuld van ‘n kind, die kat wat my so pas gered het en maak ‘n nota vir die volgende keer wat jy moet verduidelik dat iets “gebreek het”  

Hoop die Maandagaand hanteer julle sagkens!!!


No comments:

Post a Comment